Home Page Image
 

Vir Navrae en Besprekings:

Kontak Louis De Villiers.

082 471 3433
 

 


Biografie

Freda Francis is gebore op 26 November 1971 in Pietersburg (vandag Polokwane). Sy is getroud op 19 April 1997 met Louis de Villiers en hulle woon in Potchefstroom.
Freda was die jongste van drie kinders.  Haar passie vir sing was reeds sigbaar op die jong ouderdom van vier jaar, sy kon ure na langspeelplate luister, die woorde memoriseer en haar weergawe daarvan deurgee.

Om sangeres te wees was vir haar ‘n droom, maar om dit te kon wees kos geld en daarvan was daar nie volop nie.  Wanneer kinders haar op skool gevra het wat sy wou word, het sy alles gesê bahalwe sangeres.  Freda was deel van die skool koor en het by jeugdienste in die kerk opgetree, daar het sy reeds haar talent vir liedjies skryf ontdek.
Sy het haar hart vir Jesus gegee op twaalf jarige ouderdom. Haar pa het baie siek geword aan sy hart en daar was tye wat hulle regtig baie arm was. Maar vir Freda het dit nie gegaan oor aardse rykdom nie, haar niggies se klere het sy met trots gedra. Sy het geweet dat dit nie die goeters in die lewe is wat bepaal wie en wat jy is nie.

Freda het die seer van die lewe reeds op ‘n jong ouderdom ervaar met die afsterwe van haar oudste broer en ‘n jaar daarna het haar pa ook gegradueer.

Na skool het sy ‘n werk by ‘n meubelmaatskappy aanvaar. Op twintigjarige ouderdom het sy haar ghitaar met ‘n spyker in die muur vasgeslaan omdat sy gevoel het haar familie en vriende weet hoe sy sing en haar droom is onbereikbaar.  Daardie Desember het die Here vir haar ‘n droom gegee waar sy by ‘n helder waterstroom staan onder ‘n groot lowergroen boom, sy het afgekyk na haar voete en gesê: “Here vir U sal ek loop”, sy het afgekyk na haar hande en gesê: “Here vir U sal ek werk”.
Na haar droom het sy haar werk agter die lessenaar bedank en begin met promosie werk vir verskeie meubel winkels, sy het ook opgetree by ouetehuise en skoue. Elke moontlike geleentheid het sy aangegryp.

In 1996 het sy professioneel begin sing en is haar debuut cd “Somerkind” met groot lof ontvang, daarna het “Memory”, “Somerland”, “Freda”, “’n Foto”, “Never been kissed” en “Mambo” gevolg. Freda het die treffers “ Baie dankie ma”, “ ‘n Foto”, “Gee my”, “Ek het jou lief” en ander geskryf.

Dit het egter twaalf jaar geneem voordat sy voltyds in sang bediening kon staan. Ons tyd is nie altyd God se tyd nie en sy het besef dat God haar in daardie jare geleer en gevorm het met karaktertrekke wat sy nodig het om ander se harte en menswees te verstaan (niks is ooit verlore as jy leer uit jou verlede en foute nie).

In 2003 het Sy en haar man Louis de Villiers hulle eie platemaatskappy “gig musiek” gestig. Hulle het by ‘n vriend gesit om die verwerkings van nuwe sekulêre musiek te maak, dit het egter nie gebeur nie omdat Freda in plaas daarvan geestelike musiek begin sing het (iets wat diep gewortel was in haar hart). Sy en Louis het vir mekaar gekyk en hy het gevra: “wat wil jy eerste doen?”. Sy het impulsief geantwoord met: “dit wat eerste klaar is”.  Op daardie stadium was daar nog geen geestelike liedjie geskryf vir ‘n cd nie.  Die volgende oggend het sy wakker geword met die lied “Ek loop die pad”, en binne ‘n week is die musiek en liriek van “Nader al nader” gebore. Freda se passie het Jesus geword, en sy het die droom van twaalf jaar gelede begin leef.  Sy bedien reg oor Suid-Afrika, Namibie en Botswana waar sy optree by kerke, skoue, musiekfeeste, dames funksies, fonds insamelings en sommer enige plek waar die Here haar wil gebruik.  Van die begin af het sy en Louis niemand gekontak vir ‘n optrede nie, hulle het gekies om te bid oor hulle dagboek en wanneer die Here in ander se harte werk skakel hulle vir ‘n bespreking, op so manier weet hulle dat hulle in Sy plan vir hul lewe is.

Haar cd’s het soveel suksesse bereik:  “Nader al Nader” raak aan platinum status, “Span jou Seile” en “Waardig is die Heer” is albei ver verby goue status en die nuutste cd “Albaste fles” is vinnig op pad goue status toe alhoewel dit onlangs uitgegee is.
Sy het ook die Huisgenoot toekenning vir beste geestelike sangeres vir 2005 ontvang en was ook benoem as een van drie finaliste vir die toekenning in 2006 (alhoewel sy nie ‘n cd vir daardie jaar uitgegee het nie).  Sy was ook verskeie kere te sien op DKNT se top tien met haar geestelike cd’s. En as jy haar uitvra oor al haar suksesse sê sy: “dit is alles net genade en die eer kom die Here toe”. 

Die Here het haar geseën met ‘n besonderse talent om nuwe geestelike musiek en liriek te skryf, daarom is haar cd’s altyd belaai met oorspronklike liedjies wat almal kan saam sing.

Freda is iemand wat ruimte skep vir die Gees van die Here, haar bediening is:
Jesaja 61:1-3 - Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf
om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur  
om die wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan
te kondig, vryheid vir die wat opgesluit is,
- om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon,  
die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos,
- die dag waarop Hy vir die wat in Sion treur, eer gee in plaas van smart,          
vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer.  Hulle sal   
genoem word:  Bome van Redding.  Die Here het hulle geplant om sy    
roem te vermeerder.

En as jy na haar musiek en bediening luister, is dit presies wat sy doen.  Freda bedien interkerklik, vir haar gaan dit alles oor Jesus, wat Hy vir ons kom doen het, Sy genade, Sy verlossing en Sy evangelie. Die res kom vanself wanneer jy Hom aanneem en Hom liefhet, dan sal jy wil verander en meer soos Hy wil wees.